Yearly Archives: 1929

Grotte-toer

Sku-sku het die een-en-vyftig toeriste mekaar aangekyk toe hulle die Donderdagmiddag op Stellenbosch-stasie bymekaar gekom het. Dr Grobbelaar (en hierby sluit ons natuurlik die hoedjie in) was die enigste wat op sy gemak gelyk het. Maar dank sy die langgerekte treinreis na Ladismith – toe ons naderhand van verveligheid in ‘n “trok” gaan ry het – het ons mekaar gou leer ken. Die “meneer” en “mejuffrou” het plek gemaak vir “Wa”, “Kloppie”, “Ampie” en andere. Die rit per lorrie van Ladysmith na Prins Albert het nog verder alle stywigheid uit almal geskud. Continue reading

Rooi-els

Op Vrydag, 19 April het ‘n party van vier-en-vyftig studente van Stellenbosch na Gordonsbaai vertrek waar kamp geslaan is. Die volgende dag is die party die berg uit na Steenbrasdam. ‘n Sterk suidooste wind het die nag almal uit hulle slaap geblaas en krete van mense, deur angs bevang omdat tente op hulle wil neerstort, het die wat nie vir wind omgee nie, ook nog gedwing om te gaan help tentpenne inmoker. Continue reading

Vishoek-uitstappie

Dat die honderd-een-en-twintig Maties wat hul name ingegee het vir die Muizenberg-Vishoek-uitstappie van die volgende dag, Vrydagaand uiters pessimisties was, is vanselfsprekend, want die Suid-Oostewind wou maar nie gaan lê nie. Maar Saterdag was die weer ideaal, en vroeg die oggend was Stellenbosch-stasie een bonte massa laggende en geselsende jongmense. En toe die trein eindelik die stasie binnestoom, storm almal die groot, ope waens en binnekort is al die sitplekke, sowel as die leunings van die banke, beset. Skaars is die trein in beweging, of ‘n musiekinstrument kom te voorskyn en toe begin die ware gloria. Wat die party nog joliger maak, is die aankoms van koffie. Net vir gou word toebroodjies uitgehaal en ‘n algemene etery vind plaas. Gevolglik lyk die pad baie kort, en voor ons ons weer kom kry borrel ons in die Kaapse stasie uit. Dat ons heelwat belangstelling onder die Kapenaars opgewek het, spreek vanself, want een ding is seker: Dis nie aldag dat daar 122 soortgelyke toeriste in die ou Moederstad losgelaat word nie!

Na ongeveer ‘n uur, kom almal weer bymekaar onder die groot horlosie, om dan onmiddellik na die spesiaal gereserveerde wa te gaan, waar die proviand-komitee reeds met kiste met heerlike druiwe op ons wag. En dan, Muizenberg-toe onder vrolike gesing, gelag en gepraat. Sodra die elektriese trein staan, is die hele party op die stasie met sak en pak, om net op verdere bevele te wag. En daarna, reguit see-toe! Dat die kaartjieskantoor by die pawiljoen dit die volgende kwartier net opdraend gekry het, sal die betrokke persone wel tot hul leed kan getuig.

Dit het dan ook nie lank geduur nie, of die see was swart van die baaiers, sommige met branderplanke gewapen, maar die grote gros daarsonder. En ons het ook die meeste gebruik gemaak van die swemtyd en uiters jammer gevoel toe dit regtig tyd was om uit te gaan uit die heerlike branders. Maar aan alle goeie dinge kom ‘n end – ook aan die baaiery, en ten slotte was almal darem weer min of meer presentabel vir die pad. Ter versterking kry almal eers ‘n heerlike tros druiwe, en daarna moet die party voetslaan, eers ‘n kort klim tot by die bergpad en dan verder met dié pragtig gebaande pad – ‘n ware meesterstuk van ingeneurswerk. Wonderlik mooi is hiervandaan die uitsig op die baai.

Regoor Kalkbaai hou die party stil, om eers ‘n bietjie uit te rus en die inwoners van die naaste huis teen wil en dank op musiek te vergas. Kort daarop begin die klimmery van die eerste skof na die Strandlopergrotte in die berg. Na omtrent ‘n halfuur bereik die party ‘n lekker plekkie waar almal hul neertrek om goed te rus en eers iets te eet. En net gou is daar heerlike koffie beskikbaar wat dan ook baie gretig uitgedrink word. Eers later daag mnr Gordon Mills – die vriendelike voorsitter van die Kaapse bergklub, wat goedgunstiglik aangebied het om leier te wees na die grotte – op met mev Mills en mnr en mev Anderson. Die vyfde lid van hulle geselskap – en hy dien veral genoem te word – was ‘n sewejarige seuntjie wat die daaropvolgende klim besonder goed gestaan het.

Nou vind daar ‘n splitsing plaas: die meerderheid van die party kom tot die gevolgtrekking dat hulle oorgenoeg geklim het vir een dag, en besluit dus om maar dadelik voet te slaan na Vishoekstrand, terwyl die res hul aan die kant van mnr Mills skaar en streep-streep begin klim. Daar dit gruwelik warm was, vorder die klimmery maar stadig, maar ten slotte was almal tog bo.

Op geringe afstand van die diep grotte, is daar verskeie kleineres wat ‘n besondere bekoring gehad het vir die moedigeres (?) onder die klimmers – getuie daarvan, hoe hulle die een na die ander op hul knieë in die betrokke gate verdwyn, om netnou weer ‘n endjie verder hande-viervoet tevoorskyn te kom.

Maar die grootste indruk het nog die grotte self gemaak. Alleen elke derde of vierde persoon het ‘n brandende entjie kers in die hand, soos die gapende swart bek hul die een na die ander insluk. Binnekant is dit pikdonker; die nou gangetjie kronkel in en uit tussen opstaande en uitstekende rotsblokke, sodat dit uiters moeilik is om die pad, sowel as die persoon onmiddellik voor jou, tegelykertyd in die oog te hou – veral as jy toevallig nie so bevoorreg is om self in besit van ‘n kers te wees nie. Tog bereik almal sonder enige ongeval die eerste groot vertrek. In die onsekere lig van die paar ou kersies lyk die rotskamer baie geheimsinnig; fantastiese skaduwees dans op die hoë, ongelyk mure rond, om onmiddellik te verdwyn, sodra jy die lig na dié kant toe draai.

En nou vind daar weer ‘n ernstige diskussie plaas: diegene wat nog wil gaan swem – en die meeste moet erken dat hulle dit welterdeë nodig het – moet nou omdraai; die ander sal dwarsdeur die grotte gaan. ‘n Hele paar wat hoegenaamd nie van plan was om te gaan swem nie, besluit om ook maar om te draai, toe hulle te hore kom dat alleen betreklike skraal mense by een of twee plekke sal kan deurkruip. En was hulle nie bly dat hulle dit gedoen het nie, toe hulle later ‘n voëltjie hoor fluit dat een van die geagte professore vasgesit het!

Die afkom was vinnig want almal verlang nou na ‘n lekker koue seebad. Op ‘n vinnige draf gaan dit tot aan die voet van die dorp, en na ‘n dronkie water by die eerste die beste kraan, maar weer verder – reg deur, Vishoek-toe. Daar gekom, gaan hulle eers swem, terwyl party van diegene wat intussen op die sand rond sokker en voetbal gespeel het, lemoenstroop meng. En toe die swemmers eindelik weer by die res van die party aansluit, moes hulle eers die innerlike mens versterk. Eindelik kom ook die paar ou veterane wat dwarsdeur die grotte gegaan het en toe van Kalkbaai al langs die see gestap het, aan en ook by hulle vind die lemoenstroop groot byval.

Kort daarop gaan almal stasie toe, waar die here baie vriendelik aanbied om die dames te weeg. Die wat graag maer wil wees, was seker aangenaam verras om te sien dat hulle ag of tien pond weeg; maar minder aangenaam was ongetwyfeld die gewaarwordinge van die dame wat moes ontdek dat haar gewig nul is. Ons innige simpatie met haar! Die word algemeen aangeneem dat sy ‘n “minus quantity” moet weeg.

Dat die dag ‘n baie aangename was – daaroor is al die deelnemers dit roerend eens. Net oor een ding voel ons uiters jammer: dat ons naamlik deur ‘n misverstand, op een of ander manier weg geraak het van mnr Mills. Ons wil hom om verskoning vra vir soiets en hom verseker dat dit ‘n blote ongeluk was.

Met die teruggaan was daar nie baie tyd om in die Kaap rond te dwaal nie en almal het so gou moontlik treintoe gegaan. Weer het die komp met sing – en hard sing, daarby! – die tyd probeer omkry, maar namate die trein nader aan Stellenbosch kom word hulle dooieriger en vaker en almal was dankbaar bly toe ons eindelik die stasie binnestoom. Moeg, maar gelukkig en tevrede gaan almal huistoe en, in die meeste gevalle – reguit bed-toe.

Mag die klub nog baie dergelike uitstappies organiseer!

Lank lewe die BTK!!

F Gonin